Liefde EN Waarheid
Ons Hemelse Pappa is beide LIEFDE EN WAARHEID.
Ongelukkig het ons samelewing die WAARHEID begin afwater en die klem slegs op God as LIEFDE begin lê.
Die waarheid is nie altyd so lekker om te hoor nie. Dit ONTSIG ons, OFFEND ons of krap waar ons nie altyd wil gekrap word nie!
Maar juis omdat God vir ons LIEF is, die beste vir ons wil hê en ons wil help om in ons unieke skeppingsdoel/roepings hier op aarde te stap, gaan Hy as ‘n liefdevolle God die WAARHEID nie verdoesel, vergruis of afwater nie. Hy stel veilige grense in Sy Woord en deur die Heilige Gees word ons gelei waar ons moet beweeg en waar nie. Wat ons moet doen en wat nie. Wat wys is en wat nie. Beweeg ons uit daardie grense, verbrand ons ons vingers lelik of sal ons nie in Sy unieke roeping vir ons lewens kan beweeg en floreer nie. Ek dink ons almal het al die gevolg van verkeerde besluite ervaar!
Ons het drie dogters. Ek OORLAAI hulle met liefde elke dag, maar saam met dit is ek baie streng ook en dissiplineer hul gereeld. Ek probeer hul uit liefde reghelp daar waar ek moet. Soms baie sag en gentle, maar soms baie streng. Liefde is NIE: kom ons gee jou altyd jou sin nie. Liefde is nie: kom ek stem met als saam en hou jou net gelukkig nie! As ons ons kinders met liefde in waarheid wil leer, hoeveel te meer sal ons Hemelse Pappa dit nie wil doen nie!
Ons Pappa is LIEF vir ons. Vanuit daardie liefde sal Hy ons ook aanpraat en dissiplineer. Nie om kwaai te wees nie, maar om ons te beskerm. Hy werk gentle en mooi met ons, maar soms moet Hy ook hard praat!
Die vraag is net: LAAT ONS HOM TOE?
Ons moet selfondersoek instel en kyk of daar nie dalk hardkoppigheid, beterweterigheid, eiewysheid, versluiering van gedagtes of bloot seer in ons eie harte is wat maak dat ons nie wil ag slaan op Sy WAARHEID nie.
Die oomblik toe ek trots en hardkoppigheid begin neerlê het en my foute erken, kon God met my hart begin werk en my in Sy liefde wys waar ek moet bely en vrykom van my eie beterweterigheid. My eie persepsie van wat REG is. Dit moes vervang word met Sy waarheid. Sy veilige grense. En glo my – dis ‘n daaglikse proses van SELF neerlê! Ons VLEESMENS is swak, manipulerend, duister en gefokus op EIE EK en tydelike plesier. Maar ons GEESMENS is sterk, vol lig en lewe, gefokus op die ewigheid en op ander en smag na heiligheid. Ons moet ons geesmens versterk sodat dit sterker word as ons vleesmens!
Ons maak foute. Maar waar ons bely voor Hom en dit afsny is Hy VOL GENADE en VERGIFNIS en Hy dink nie eers weer aan dit wat ons bely nie!
NET LIEFDE bring ongelukkig mee: “alles is reg”, bederf, wanorde, verval en chaos.
NET WAARHEID lei tot koudheid, kilheid, mismoedigheid.
Maar LIEFDE EN WAARHEID bring VRYHEID en VREUGDE!!
Kom ons aanvaar Sy Liefde en Waarheid.
Ons het Hom SO SO SO NODIG……..die wêreld het Hom nodig! Hy bly immers HEILIG en SOEWEREIN.
Maak vandag reg. Môre is dalk te laat.
Yolandi
John 8:32
32 and you will know the truth, and the truth will set you free.”