In the Garden Blog

TERUGSNOEI

Vanmiddag het ek net beleef om die snoeiskêr te vat en klomp plante en takke terug te snoei na ‘n lang, koue winter. Ek weet glad nie eens of dit die regte tyd van die jaar is of wanneer mens dit eintlik moet doen nie, maar ek het net ervaar: sny terug!

Rose, krismisrose, salie, takke….dit moet nou weg!

Dit was regtig die wonderlikste gevoel en het vir my verseker ‘n dieper betekenis ingehou as net bloot ‘n taak wat afgehandel moes word.

Soos ek beweeg het deur die tuin, het ek stuk stuk die takke wat uitgegroei, kaal en vaal lyk, teruggesnoei om ruimte te maak vir die nuwe groei wat binnekort oppad is.

Ek beleef ‘n duidelike skuiwing van seisoene wat plaasvind – winter na lente.

Maar saam met dit ook ‘n geestelike skuiwing na die “nuwe”.

Ek beleef ‘n gereedmaking – ‘n terugsny en afsny in ons elk – van dit wat nie meer dien nie, dit wat nie meer hoort nie en dit wat nou moet klaarmaak. ‘n ‘Skoonmaak’, ‘n reiniging. Dis nodig vir die nuwe seisoen waarin ons nou gaan beweeg.

Met die snoeiskêr in my hand sny sekere takke maklik af, maar party is halstarrig en dik en moet ek met altwee hande baie hard druk om dit af te sny!

So het ons elkeen ook ‘n paar ‘’takke” wat ons maklik  afstand van kan doen en afsny, maar ook ‘n hele paar wat bietjie “dik” en hardnekkig geword het en meer krag vat om van ontslae te word! Ons vra dan vanuit ‘n nederige posisie ons Tuinier om ons te help met Sy bekwame hande.

Dis moeilik, ek weet. Maar die vrugte sal soet wees. Dis ‘n nodige proses vir nuwe groei en goeie vrugte dra.

Liefde

Yolandi

JOHANNES 15:2 AFR83

“Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra.”
 
Foto van Pinterest