ń Paar weke terug (rondom 2 Augustus) het ek gesien ons amandelboom begin bloeisels kry. Onmiddellik beleef ek – nuwe seisoen!
ń Dag daarna begin ek Jeremia 1 lees en heel ” toevallig” lees ek hierdie gedeelte:
JEREMIA 1:11-12 AFR83
“Die woord van die Here het tot my gekom: Wat sien jy, Jeremia? Ek het geantwoord: “Ek sien ‘n amandeltak.” Die Here het geantwoord: Jy het reg gesien. Ek staan gereed om te doen wat Ek gesê het.”
Dit was vir my werklik interessant dat ek juis net die vorige dag die bloeisels op die amandelboom gesien het! Ek lees toe verder in die kommentaar-afdeling dat amandelbome een van die eerste bome is wat lentebloeisels kry. Dit kondig die lente aan, al lyk dit dalk nog nie vir jou na lente nie!
Netso gee of kry mens soms ń profetiese woord en dit word dalk nie geglo nie omdat omstandighede dalk nog nie so lyk nie.
En net so is dit dikwels die geval met God se woord en beloftes. Dis vas en waar, ons kan dit maar glo, maar omstandighede lyk dalk nie of dit so gaan uitdraai nie, of ons beleef dalk nog nie die belofte nie, of ons wil dit dalk nie glo nie.
Maar nietemin – dit is vas en waar.
Nes dit nog glad nie LYK na lente sodra die amandelboom bloeisels kry nie – is dit reeds lente! En nie lank daarna nie, speel die “aankondiging” wat die amandelboom gemaak het uit en kom tot vervulling deur klomp bome wat bloeisels kry, blomme wat blom en warmer dae!
Dink vandag na oor die amandelbloeisels in jou lewe. Glo en vertrou jy dit nog? Dalk moet ons dit net weer eien en vasmaak!