In the Garden Blog

STORMS

Maandag 11 September was omtrent ‘n dag van skommelinge en chaos in die natuur hier in die Wes-Kaap. Van stormsterk winde, tot skielike reën, skielike hael en ook sneeu in die Matroosberge!

Soveel uiterstes in een dag!

Ek onthou deur die loop van die oggend hoe ek na die stormwinde buite gekyk het en vir ‘n oomblik het ek so half moedeloos gevoel en gedink – dit gaan heeldag so wees….hoe gaan ek als gedoen kry.

Later die middag sien ek dit lyk skielik rustiger buite? Ek besluit om gou vinnig uit te gaan voor ek met my take aangaan. Toe ek uitloop is daar ‘n DOODSE stilte in die tuin. Totale kalmte en vrede en rustigheid. En die son kom helder agter die wolke uit. Onmiddellik beleef ek God se teenwoordigheid duidelik en dat Hy iets met my wil deel.

Ek beleef toe dat Hy die volgende deel:

“Dikwels kyk mens na die storm wat tans in jou lewe woed en dit voel vir jou of dit nooit gaan ophou nie. MAAR Ek kan SKIELIK dinge verander.”

Moenie moed opgee nie. Dis wat die vyand jou wil wysmaak in storms – dat dit nooit gaan beter raak nie. Dat dit altyd gaan woed. Nie gaan stop nie. WANHOOP. MOEDELOOSHEID. VERLAMMING.

Nes ek die oggend na die STORM gekyk het en gedink het dit gaan nou maar heeldag so wees, net so voel mens dikwels oor die storms in jou eie lewe. Jy voel dalk in daardie oomblik: dit gaan net nooit stop nie. Hoe gaan ek hierdeur kom/deur die dag/deur die situasie? Dit bring gevoelens van moedeloosheid en wanhopigheid oor jou. En as jy onder dit ingaan, is dit soos onkruidsaadjies wat ontkiem en wortel skiet, groei en groter word. As dit nie wortel en al uitgeruk word nie, sal dit later al die ‘blomme’’ in “die “tuin” van jou hart verstrengel en verwoes.

God kan SKIELIK ‘n storm kalmeer. Dikwels is die deurbraak bitter naby, maar die vyand wil jou laat voel dat dit nooit gaan verander nie!

Psalm 107:29 AFR 83 –  Hy het die stormwind stilgemaak,en die golwe van die see het bedaar.

Die battle reg oor die wêreld is werklik. Dis die agenda op ons. Hoe daar deur menigte situasies “discouragement”, moedeloosheid, wanhopigheid gebring wil word en dan depressie tot gevolg het.

Kort daarna ry ek dorp toe en nes ek by die pad kom en opkyk sien ek hierdie beautiful gedeelte van ‘n reënboog met ‘n donker grys stormwolke in die agterkant.

Onmiddelik weet ek dis die foto vir die woord. Maar ek besef – ekt my foon in die huis vergeet!

Ons draai gou om en gaan haal dit gou. Terug by die pad sien ons die reënboog is weg…..

Ek bid: Here, U het dudelik in my hart gewys dat dit die foto vir die boodskap is, sal U asseblief die reënboog weer wys?

Enkele minute daarna begin die reënboog weer verskyn! En die keer nog mooier as wat dit was!!!

Na die tyd besef ek ons Here wil die boodskap verder uitbrei en ‘n sleutel vir ons gee om te gebruik TERWYL ons moet vasstaan in storms:  ons moet bly fokus op Sy BELOFTES in die Woord asook persoonlike beloftes wat Hy dalk vir ons geopenbaar het vir ons toekoms. Dit dalk ‘n paar keer ook HARDOP verklaar! Ons moet vashou daaraan en daarop fokus te midde van ‘n stormtyd en te midde van gedagtes wat dalk wanhoop wil bring. Die fokus sal ons HOOP gee en ons staande help hou, want daar is ‘n vooruitsig!

Jesaja 40:31AFR 53 – maar die wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.