Ek beleef ons is in ń tyd van introspeksie, refleksie en skoonspoel saam met die Here.
Ń Tyd wat ons reflekteer oor die aflope jaar.
Hoe ons gestap het, hoe ons gepraat het, hoe ons gekies het.
Ek beleef ń skoonspoel en belei van wat nié Sy hart verbly het nie, en ń vasmaak van wat wél Hom vereer en verbly het! Saam met dit sommer ń kop onder die water deur duik – fisies – is ook nodig die vakansie!!😄
Om nederig en sonder mure voor ons harte voor Hom te wees en toe te laat dat Hy kom doen wat Hy wil doen, is ń teken van emosionele en geestelike volwassenheid!
Hy werk so mooi sag daar waar ons erken en belei, en ons knie buig voor Hom.
Ń Diepe besef van Sy Heiligheid en Soeweriniteit bring ons in daardie posisie – ‘n wete dat ons elkeen ALLEEN voor Hom gaan staan en rekenskap gaan gee van wat ons tyd op aarde en hoe ons geleef het op grond van wat ons “gehoor” en geweet het.
Mag ons ons harte en gedagtes oopstel vir Sy stem en Sy SUIWERING.