In the Garden Blog

WYSHEID AS KROONTJIE

Al vandat ek ń klein dogtertjie was, was ek soekend en lief om WYSHEID te probeer bekom.
 
Ek was lief daarvoor om na die wysheid van ouer mense te luister en ek het altyd vir God gevra, ek wil graag soos Salamo, NIKS anders hê nie, net wysheid!
 
Wysheid is vir my so kosbaar.
 
Ek beleef dat al is mense hoe talentvol of kundig, as mens nie wysheid het of in wysheid optree nie, jy baie dinge deurmekaar kan krap, vertroue/aansien kan verloor en soms ook nie jou volle potensiaal bereik nie!
 
Om wysheid in pag te hê, sal ons lewens VERSIER. Die boek Spreuke sê dit sal vir ons soos ń sierlike kroon wees!
 
Dit laat my dink aan die blommekrone wat ek maak! Wat ons hoofde kom versier en laat blom!
 
Wysheid – Wysheid of verstandigheid is die vermoë om te dink en produktief op te tree deur kennis, ervaring, begrip, gesonde verstand en insig te gebruik.
 
Insig – Toestand van duidelik insien en in diepte verstaan; begrip toon.
 
Goddelike wysheid is wysheid wat uit die hart van God kom! Deur te wandel met Hom en intiem met Hom te leef in respek en agting vir Hom, sal Hy altyd bonatuurlike wysheid en insig vir ons voorsien wanneer ons Hom vra!
 
Mag ons elke dag, soos Spreuke sê, alles gee wat ons het om wysheid en insig te bekom!
 
Ons het in alle omstandighede waar ons met mense te doen het, Godelikke wysheid en insig nodig! EN ONS FAAL BAIEKEER, maar daar waar ons saam met God wandel, sal Hy ons help en wysheid gee.
 
‭‭SPREUKE 4:7-9 AFR83‬‬
[7] Die wysheid kom eerste. Sorg dat jy wysheid bekom, gee alles wat jy het, om insig te kry! [8] Slaan dit hoog aan, dan sal dit aan jou aansien gee. Dit sal jou ‘n man van betekenis maak as jy dit vasgryp. [9] Dit sal jou lewe versier, dit sal vir jou ‘n sierlike kroon wees.”