‘n Oggend van hoop en inspirasie.
Dit was vir my ‘n eer om die oggend voor die Hoofgasspreker, Karen Swannepoel, ‘n kort boodskap van Hoop te kon deel asook ‘n kopkransie demonstrasie te kon gee.
Ek het die week tydens voorbereiding so sterk beleef dat daar vele saadjies is wat dormant lê en net aktivering (‘water’) benodig om te ontkiem – om die eerste tree te gee en hul talente uit te leef! Ook ouer mense wat dalk voel – maar watter doel dien ek dan nog?
Soveel vroue is so talentvol, maar is versigtig en bang om daardie tree te gee. ‘Wat gaan ander van my sê?’ ‘Wat as ek faal?’.
Ons moet ons lig helder skyn sodat ander dit kan sien en ons Here verheerlik en Hom die eer gee daarvoor! Matteus 5:16
Ons elkeen is kosbaar aanmekaargeweef en het ‘n unieke skeppingsdoel! Psalm 139
Ons elkeen het ‘n storie om te vertel. En nie een storie is belangriker as ‘n ander nie! Dis jou storie en dit kan iemand anders help, bemoedig en inspireer!
Vertel jou storie.
Vat daardie eerste tree en leef jou talente uit!