Hierdie voëltjie is so kosbaar. Dis vrolik, vlink en vinnig. Dis baie lojaal en behou gewoonlik sy lewensmaat vir altyd. Dit kom gewoonlik terug na sy vorige nes en herbou weer dit wat gebreek het sorgvuldig. Dit vlieg honderde kere heen en weer om een vir een modderballetjies te kry om sy nes klaar te bou. Dit lê duisende kilometers af elke jaar van Europa tot in SA – ń afstand wat soveel krag en uithouvermoë verg.
Maar buiten die spesiale eienskappe, let ek iets anders op die laaste tyd.
Elke laatmiddag/vroegaand vlieg die voëls hoog in die lug in hul hordes rond besig om goggas en muskiete te vang. Wat vir my uitstaan is dat al is hul so baie, en al krioél hulle in die lug agter kos aan, hulle nooit teen mekaar bots nie!
In die wriemel en wat amper lyk soos ” chaos”, vlieg hul met grasie en perfekte harmonie. Vlink en vinnig.
Elkeen het dieselfde doel voor oë, maar elkeen gun mekaar die ruimte en spasie om dit te kan doen. Daar heers HARMONIE ín die wriemeling!
Dis vir my ń mooi beeld en voorbeeld vir ons as mens. Elkeen aan die woeker en bou op aarde, met talente, projekte, take, besighede en roepings soos deur God gegee. Van bo af lyk ons almal seker ook amper soos die swaeltjies!
Mag die voorbeeld van swaeltjies OORSPOEL na ons as mens om in die wriemel, krioel en woeker hier op aarde, mekaar die spasie, ruimte en respek te gun om te bou en in HARMONIE te vloei met mekaar!