In the Garden Blog

GEREEDHEID

 
Laas week bring my jongste dogtertjie vir my hierdie blom. Ek ken glad nie die naam nie.
 
Dis so mooi en toe ek dit van nader bekyk, beleef ek die woorde: GEREEDHEID.
 
Elke knoppie op hierdie blom gaan oop sodra dit gereed en volwasse genoeg is. Van die knoppe BULT al om oop te gaan. Van die knoppe is maar nog baie KLEIN en ONDERONTWIKKEL.
 
Dit laat my dink aan ons lewenspad.
 
Sodra ons gereed en volwasse genoeg is, gegroei het in daardie seisoen, vir die volgende, sal daardie deur vir ons oopgaan.
 
Daar is vele deure op ons lewenspad, nes hierdie blom ook vele knoppies het.
 
Elkeen sal oopgaan wanneer daardie seisoen in sy rypheid beweeg het en gereed is om oop te bars.
 
Die genot van die vreugde, geur en kleur wanneer ń blom oopgaan is groot! Ander geniet die aangename geur en nes die bye en suikerbekkies, kom proe en geniet dit saam met jou!
 
Die geur is nie vir jouself nie, maar vir ń wêreld om jou om ook te kan geniet! Dis iets wat uitvloei….
 
Maar dan is daar weer ‘n tyd van groei, ontwikkel en leer.
 
Tot daardie deur, daardie volgende blommetjie weer op sy tyd oopgaan.
 
Om te rus in daardie tyd van GEREEDHEID verg baie: goeie selfbeheersing, geduld en beheer neerlê.
 
Dis ń proses in ons Here se hande en ons “submission” onder Hom.
☘️