Geruime tyd terug het ons in die woud gaan stap naby Wildernis.
Mooiste groen bome, varings en vars lug vroeg oggend.
Daar het het ons na ń boom gekyk wat omtrent 800 jaar oud is!
In verwondering staan mens ek kyk na die grootheid van die stam wat standvastig staan – stewig geanker – amper onwankelbaar.
Soos ons verder stap kom ons op iets verrassends af wat nie in Februarie so was nie.
ń Massiewe boom wat wortels en al omgewaai het.
En nog een….en nog een….en nog een…!
Vêr ente uit mekaar uit, een vir een, kom ons te doen met groot bome wat omgeval het. Wortels en al.
Onmiddelik begin ek te dink, te wonder, te vra – wat is hier voor ons? My kop werk maar so – ek glo daar is altyd ń boodskap of les wat ons uit die natuur of verskynsels kan leer!
Here, wat wys U hier wat ons mensdom uit kan leer?
My gedagtes gaan terug na die groot boom wat al 800 jaar staan. Stewig, amper onwankelbaar, gevestig, geanker, tevrede….stil.
Wat het gemaak dat hierdie boom staan – vir 800 jaar al – maar die ander nie?
So raak my gedagtes los…
Die antwoord lê in die wortels. Ek vra bietjie vir my pa – hoe verskil die wortelnetwerk van die 800 jaar oue boom wat staan teenoor dié wat omgewaai het?
Die bome wat omgewaai het se wortels kon nie goed genoeg anker nie. Dit toon ook dat van die bome te veel opmekaar gestaan het en te veel op mekaar gesteun het met die gevolg dat die wortels nie genoeg kon groei en stewig anker en fondasie vorm nie. Daar was nie genoeg ruimte en spasie vir elke boom om sy eie wortelstelsel te groei en stewig te anker nie.
Toe die storms en winde kom, kon die boom eenvoudig nie stewig staan nie en het die mooi bome wortels en al omgewaai.
Uit hierdie kan ons dalk aflei:
Die proses van wortelvorming is belangrik. ń Boom, ń huis kan nie stewig staan sonder ń goeie fondasie nie.
Daar kom tye wat die hande en ondersteuning rondom jou dalk min is. En die sterkte van jou wortels en fondasie, krag en vertroue in God, word getoets.
As die wortels nie self die geleentheid gehad het om stewig te anker en te groei nie, maar altyd op ander steun, kan die boom dalk omval….
Om deur prosesse te gaan is nie altyd “lekker” nie, maar deur dit vind versterking en wortelvorming plaas wat nodig is vir versterking vir die winde en storms van die toekoms….